“SEB”: Verifieer jou besigheid en pasop vir geen swart eienaarskap

21 August 2012 777

Die Wet op Breedgebaseerde Swart Ekonomiese Bemagtiging (“SEB”) maak deur die verskillende Kodes vir Goeie Praktyk (“Kodes) voorsiening vir besighede om hul graad van SEB voldoening te meet. Besighede word gemeet deur die gebruik van ‘n telkaart van toepassing op hul spesifieke besigheid en waaronder besighede oor ‘n reeks verskillende elemente punte moet verdien.

Die Department van Handel en Nywerheid maak gebruik van geakrediteerde SEB agentskappe, SANAS en IRBA, om besighede te gradeer volgens hul vlak van voldoening aan swart bemagtiging onder hul telkaart. Die agentskappe kyk onder andere na elemente soos jou bestuur, eienaarskap en aankope. Die relevante agentskap reik dan ‘n jaarlikse sertifikaat uit wat jou gradering aandui en wat dan weer die daaropvolgende jaar hernu moet word as deel van die deurlopende proses van SEB voldoening. Die belangrikheid daarvan om jaarliks geverifiёer te word is in kort die volgende:

  • Staatsinstellings stel streng SEB vereistes by die toeken van staatstenders en versoek jou sertifikaat wanneer jy aansoek doen vir ‘n tender.
  • Besighede verdien SEB punte indien hulle aankope van verskaffers doen met ‘n goeie sertifikaat, en as verskaffer kan ‘n goeie sertifikaat jou help om in die goeie boeke te bly van hierdie besighede.
  • Verskillende handelsektore vaardig handveste uit wat besigheidslisensies, die termyn van huurkontrakte, vulstasie konsessies en mynlisensies voorwaardelik maak aan sekere vlakke van eienaarskap deur Swart, Indiёr, Kleurling en ook Chinese (“Swart”) eienaarskap binne die onderneming.

Sekere sektore lê deesdae veral klem op Swart eienaarskap en stel minimum vereistes daarvoor in hul betrokke sektor SEB handveste. Hier volg ‘n kort uiteensetting van sekere van die belangrikste sektore se vereistes:

  • Die Petroleumsektor:  Die Petroleum Handves bepaal dat 25% van alle besighede in hierdie industrie alreeds teen 2010 deur Swart persone besit word. Die besighede wat nie voldoen aan hierdie vereiste nie loop die risiko om hul besigheidslisensies te verloor. Die petroleum handves vorm deel van die Wet op Petroleum Produkte en nie nakoming van die handves kom neer op nie-nakoming van die Wet.
  • Die Mynsektor: Die Mynhandves bepaal dat 26% van alle myne teen 2014 deur Swart persone besit moet word. Besighede in die mynbedryf is verplig om jaarliks hul vordering met transformasie te rapporteer aan die Departement van Minerale en Energie en fisiese inspeksies deur die Department word onderneem. Die Mynhandves vorm deel van die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleum-hulpbronne. Die betrokke Wet gee die Department die mag om ‘n besigheid se mynlisensie te kanselleer indien dit nie voldoen aan die handves nie. Besighede wat verskaffers is van produkte aan myne staan die kans om hul kontrakte te verloor aangesien myne deur die Mynhandves geforseer word om slegs verskaffers te gebruik waarvan ten minste 26% van die besigheid deur Swart persone besit word.
  • Die Konstruksiesektor:  Besighede wat geraak word deur die konstruksiehandves sluit in boukontrakteurs, siviele ingenieurs, raadgewende ingenieurs, argitekte en bourekenaars. Die konstruksiehandves bepaal dat 27,5% van eienaarskap teen 2012 deur Swart persone besit moet word. Staatsdepartemente is baie streng op swart eienaarskap by die toeken van tenders in die konstruksiebedryf en baie besighede in die bedryf maak staat op staatstenders om kop bo water te hou. Die mededinging in die boubedryf is baie streng en besighede wat voldoen aan die handves sal ‘n groot voordeel bo hul mededingers verkry.
  • Die Eiendomsektor:  Die sektor kodes vind toepassing tot alle kommersiële aktiwiteite binne die residensiële-, besigheids- en diensteindustrieë (soos eiendomsagentskappe). Die Eiendomshandves bepaal dat 25% van eienaarskap teen 2017 deur Swart persone besit moet word. Dit kan verwag word dat hierdie sektor kodes algemene praktyke soos die van die Departement van Publieke Werke waar die termyne van huurkontrakte bepaal word aan die hand van die Swart eienaarskap van die betrokke verhuurder, verder sal versterk en ook sal oorspoel na nuwe eiendomsontwikkelinge.
  • Die Informasie en Kommunikasie Tegnologie Sektor:  Die onlangs uitgevaardigde “ITC”-Handves stel ‘n Swart eienaarskapsteiken van so hoog as 30% en besighede wat deel vorm van die bedryf sal onmiddelik moet voldoen aan die Swart eienaarskapsvereiste om sy volle SEB punte te verdien.

SEB het ‘n noodsaaklike vereiste vir die verkryging en selfs behoud van kontrakte en besigheid in die publieke en privaatsektor geword. SEB voldoening noodsaak besigheidseienaars om hul emosies agter te laat en ekonomiese en strategiese besluite te neem. Ignoreer jy SEB is daar ‘n goeie kans dat jy jou besigheid kan verloor deur werk af te staan aan die kompetisie wat ‘n beter SEB gradering het. Deur SEB reg te benader en strategies na oplossings te soek kan jy SEB egter omskep in ‘n strategiese voordeel vir jou besigheid.

Tags: BEE, Equity, Training
Share: