Kan jy ‘n mynveld suksesvol navigeer?

21 August 2012 ,  Soekie Smith 794

Die oormag nuwe wette en die wysigings tot bestaandes laat meeste besighede blind rond strompel in ‘n mynveld van onsekerheid in afwagting van die onvermydelike slag. Is jy bewus van die voorgestelde wysigings op arbeidswette? Beplan jy om betyds te voldoen aan die nuutste vereistes vir staatstenders? Hoe gaan jy die teikens soos vereis in die nuwe sektorale handves vir swart ekonomiese bemagtiging, wat ook op jou besigheid van toepassing is, bereik? Weet jy wat die nuwe ouditvereistes vir jou maatskappy behels? Is jou advertensies geldig? So kan ‘n lang lys vrae wat gepaard gaan met ingrypende implikasies vir jou besigheid gelys word.

Die realiteit is dat hierdie tipe vrae voortvloei uit onlangse wetgewing wat net in die laaste jaar of twee veskyn het – uitgesluit hiervan natuurlik is die magdom ouer wetgewing wat baie besighede steeds nie onder die knie kan kry nie.

Nuwe wetgewing en die impak daarvan op elke besigheid verhoog jaar na jaar. Dit beteken meer druk op werkgewers en besigheidseienaars om te sorg dat hulle besighede op datum is, dat hulle beleide en prosedures in plek is en dat hulle werknemers opgelei is rondom die implikasies en uitvoer van die nuwe wetgewing. In sekere gevalle strek dit selfs so ver dat jy as werkgewer en besigheidseienaar die verantwoordlikheid dra om toe te sien dat jou diensverskaffers se sake in orde is.

“Maar waar kry ek tyd om dit te doen? Die bestuur van my besigheid is reeds ‘n voldag (en nag) se oefening!” Ongelukkig is die kort antwoord, tyd moet gemaak word, want indien jou besigheid nie voldoen aan wetgewing nie, kan daar ernstige gevolge vir jou en jou besigheid ontstaan wat boetes en selfs kriminele oortredings insluit.

“Dis reg, ek besef ek moet, maar waar moet ek begin?” Jy kan self nuwe wetgewing wat vrylik op die internet beskikbaar is op webwerwe soos www.polity.org.za bestudeer en die nodige aanpassings aan jou besigheid maak. Dikwels is handboeke ook geredelik beskikbaar om te help met die verstaan van nuwe wetgewing. Maar hierdie pad kan arbeidsintensief en ook gevaarlik wees as jy die wetgewing verkeerd interpreteer.

‘n Verdere opsie is om jou prokureur of ouditeur te vra vir bystand. As professionele persone is hierdie adviseurs op hoogte van nuwe wetgewing en sal jou ook kan verwys na spesialiste wie jou verder behulpsaam kan wees. Baie professionele adviseurs bied seminare of werkswinkels aan juis om hulle kliënte te help om nuwe wetgewing te verstaan en toe te pas. Hulle sal jou vinnig kan help met opleiding en waar nodig, met ‘n oudit om te bepaal wat die nodige veranderinge is wat aan jou beleide en prosedures aangebring moet word. Vra uit oor die aanbied van opleidingsessies vir jou personeel en selfs jou diensverskaffers oor relevante aspekte van nuwe wetgewing. Die kostes sal dikwels nie uitermatig wees nie en ook regverdigbaar om jou besigheid voortydig in lyn te bring met nuwe wetswysigings.

Wees dus wys en doen jou huiswerk om te verseker jou besigheid is gepantser. Waar nodig, kry professionele advies en bystand en verseker jou besigheid bereik sy bestemming ongeskaad.

Share: