Die Franchise Effek van die Verbruikersbeskermingswet

23 April 2012 528

Die franchise besigheidsmodel is ‘n ideale struktuur vir entrepreneurskap. Dit verskaf aan iemand wat nie ‘n wesenlike besigheidsagtergrond het nie, die geleentheid om handel te dryf in ‘n reeds bestaande en getoetsde sisteem. ‘n Suksesvolle produk en werkswyse hoef dus nie geformuleer te word nie, want dit word verskaf as deel van die pakket wat aangekoop word. Volgens die laaste opname is daar in die omgewing van 300 verskillende franchise modelle in Suid Afrika. Elkeen van hierdie modelle het dan sy onderskeie franchisees. As mens die somme gaan maak sal mens verras wees om te sien hoe groot deel van die kleinhandel sektor in Suid Afrika uit franchise besighede bestaan.

Franchises was tot onlangs grootliks ongereguleer gewees. Die gevolg hiervan was soms grootskaalse vergrepe deur franchisors en geregtigheid het nie altyd geseevier nie. Mens kan amper sê dat daar ‘n slaaf-en-onderdaan verhouding was tussen die franchisor en die franchisee. Die franchisee was dikwels uitgelewer aan ‘n komplekse kontrak wat die verhouding tussen die partye gereël het en dikwels onbillike bepalings vervat het wat die franchisee weerloos gelaat het.

Die Wet op Verbruikersbeskerming en sy Regulasies (“Wet”) het aan die einde van Maart 2011 inwerking getree en bevat heelwat bepalings oor franchises. Hierdie Wet het tot die redding gekom van alle bestaande en toekomstige franchisees in dat dit heelparty bepalings en vereistes bevat waaraan franchisors moet voldoen. Die Wet bepaal dat alle franchise ooreenkomste vanaf die inwerkingtredingsdatum moet voldoen aan die bepalings van die Wet. Let daarop dat verwys word na alle franchise ooreenkomste. Dit sluit dus alle bestaande ooreenkomste in en nie slegs ooreenkomste gesluit na die inwerkingtreding van die Wet nie.

‘n Franchisor is dus verplig om sy/haar ooreenkomste in lyn met die Wet te bring. Die franchisors wat versuim om aan die Wet te voldoen kan boetes opgelê word en staan die kans dat van hulle huidige kontrakbepalings nietig mag wees.

Die volgende verskaf oorsigtelik ‘n opsomming van die belangrikste bepalings van die Wet die wat die franchise bedryf wesenlik affekteer:

a)  Afkoelperiode

Die Wet bepaal dat alle franchise ooreenkomste nou onderhewig is aan ‘n twee weke afkoelperiode. Hierdie feit moet ook op die eerste bladsy, heel bo-aan vermeld word. Indien jy dus ‘n kontrak geteken het kan jy steeds binne die twee weke periode uitkom daaruit indien jy vir enige rede ookal nie meer wil voortgaan nie.

b)  Onredelike fooie en pryse

‘n Franchisor moet nou meganismes in plek stel om te verseker dat hy nie onredelike fooie hef nie. Hy mag ook nie meer die pryse van produkte onredelik verhoog nie. Die franchisor mag veder ook nie voordele ontvang van verskaffers sonder om hierdie feit te openbaar aan sy franchisees nie en hy moet ook dan aantoon hoe hy hierdie voordeel gaan aanwend indien hy dit ontvang.

c)  Openbaarmaking  

‘n Franchisor is verplig om reeds veertien dae voor die datum van ondertekening van die franchise ooreenkoms ‘n volledige openbaarmaking te maak aan die franchisee met betrekking tot sake soos sy kundigheid, die hoeveelheid winkels wat hy het, sy finansiële state en presies uiteensit wat die franchise koste gaan wees. Die kostes wat uiteengesit moet word sluit die aanvanklike en aaneenlopende bedrae in. Die franchisee sal nou voor die tyd weet waarvoor hy homself inlaat en sal daar nie enige verskuilde gelde wees wat hy moet opdok nie.

d)  Billike ooreenkoms

Die onus is op die franchisor om te verseker dat die inhoud van die franchise ooreenkoms billik en verstaanbaar is. Die franchisor moet ook toesien dat die franchisee alles heeltemal verstaan. Die franchisor moet bewyse toon van die spesifieke bepalings wat die franchisee nie verstaan het nie en hoe dit aan hom verduidelik is.

‘n Franchisor sal dus sy/haar bestaande ooreenkomste en nuwe ooreenkomste noukeurig moet nagaan ten einde te verseker dat dit in lyn met die Wet is en moontlik die advies van ‘n kenner in die gebied bekom. Die Wet dien om grootskaalse gemoedsrus aan entrepreneurs te verskaf en is tot voordeel van die Suid Afrikaanse ekonomie.

Share: