Akte van Oprigting en Aandeelhouersooreenkoms. Benodig ek beide?

19 March 2012 499

In terme van die vorige maatskappyewet het ‘n maatskappy in die algemeen sy interne verhoudings met twee tipes dokumente reguleer. Die eerste was die maatskappy se grondwet (die Akte van Oprigting en Statute) en die tweede, sy aandeelhouersooreenkoms. Die grondwet was, eenvoudig gesproke, ‘n kontrak tussen die maatskappy en sy aandeelhouers, terwyl die aandeelhouersooreenkoms die verhouding tussen die verskillende aandeelhouers gereël het.  Die aandeelhouersooreenkoms was van uiterste belang vir ‘n maatskappy aangesien dit sekere bepalings kon bevat wat voorkeur geniet bo die maatskappy se grondwet, en ook die interne verhouding tussen die aandeelhouers van die maatskappy reël.

Die nuwe Maatskappyewet (“die Wet”) het hierdie posisie wesenlik verander. Die nuwe Wet vestig die Akte van Oprigting (AVO) as ‘n maatskappy se belangrikste stigtingsdokument en bepaal dat ‘n aandeelhouersooreenkoms nie teenstrydig met die maatskappy se AVO en die Wet mag wees nie, wat die posisie in terme van die vorige wet omkeer.

Maar wat van bestaande aandeelhouersooreenkomste?

Die Wet bepaal dat waar ‘n maatskappy voor of op 1 Mei 2011 ‘n bestaande aandeelhouersooreenkoms gehad het, sodanige ooreenkoms vanaf 1 Mei 2011 vir ‘n tydperk van twee jaar van toepassing sal bly of tot gewysig word deur die aandeelhouers wat partye is tot sodanige ooreenkoms, al mag sekere bepalings van die aandeelhouersooreenkoms nie ooreenstem met die AVO nie. Die aandeelhouers het dus die geleentheid om gedurende hierdie twee jaar tydperk die aandeelhouersooreenkoms te wysig om dit in lyn te bring met die AVO. Indien die aandeelhouers versuim om die aandeelhouersooreenkoms in die tydperk te wysig, is alles nie verlore nie, aangesien daardie dele van die aandeelhouersooreenkoms wat nie in stryd met die AVO en die nuwe Wet is nie, van toepassing sal bly. Teenstrydige bepalings mag egter ongeldig wees aangesien dit nie aan die bepalings van die Wet voldoen nie.

Dit is belangrik om te let dat sou die aandeelhouers van die maatskappy die bestaande aandeelhouersooreenkoms wysig na 1 Mei 2011 maar voor die verval van die twee jaar periode, sal die twee jaar periode onmiddellik verval en moet die aandeelhouersooreenkoms dadelik in lyn gebring word met die Wet. Onder sulke omstandighede is die adviseerbaar dat al die maatskappy se dokumentasie eensklaps hersien word en in lyn gebring word met die Wet.

Die Wet maak verder voorsiening vir sogenaamde veranderbare bepalings wat outomaties op ‘n maatskappy van toepassing sal wees, tensy dit in die maatskappy se AVO gewysig word.   Interessant is dat ‘n hele aantal van hierdie veranderbare bepalings betrekking het op aangeleenthede wat in die vorige maatskappybedeling gewoonlik in die maatskappy se aandeelhouersooreenkoms gegereël sou word. Dit wil nou voorkom asof die nuwe Wet ten doel het om hierdie aangeleenthede in die AVO te reël. 

So wat beteken dit prakties?

Ten einde die bepalings van die Wet na te kom, sal ‘n maatskappy elkeen van die bepalings van sy aandeelhouersooreenkoms met die veranderbare bepalings van die Wet moet vergelyk ten einde te bepaal welke van die bepalings oorvleuel.

Oorvleuelende bepalings in die aandeelhouersooreenkoms moet dan na die maatskappy se AVO geskuif word, aangesien die Wet vereis dat hierdie bepalings en enige veranderings daartoe in die AVO vervat word ten einde geldig te wees.

Maar soos hierdie bepalings nou uit die aandeelhouersooreenkoms verwyder en in die AVO ingesluit word, mag die vraag onstaan of die aandeelhouersooreenkoms oorbodig geword het. 

Om die vraag te antwoord sal mens die aard van die AVO teenoor dié van die aandeelhouersooreenkoms moet vergelyk. 

Die AVO is ‘n geregisteerde openbare dokument. Die aandeelhouersooreenkoms daarteenoor, is ‘n private dokument tussen die aandeelhouers van die maatskappy en is nie in die algemeen aan die publiek beskikbaar nie. 

‘n Aandeelhouersooreenkoms mag dus steeds uiters relevant wees waar aandeelhouers die behoefte het om sekere aangeleenthede van die maatskapy op ‘n privaat basis te reguleer. Sulke aangeleenthede mag insluit reëlings ten opsigte van die koop en verkoop van aandele, waardasie van aandelepryse en dies meer.

Dit is egter belangrik om daarop te let dat die aandeelhouersooreenkoms nie teenstrydig met die bepalings van die nuwe Wet of die AVO mag wees nie.

Om op te som

Die volgende twee basiese vrae mag aandeelhouers bystaan ten einde te bepaal of hul steeds ‘n aandeelhouersooreenkoms benodig:

  1. Bevat ons aandeelhouersooreenkoms veranderbare bepalings wat in die AVO gereguleer moet word en steeds relevant tot ons maatskappy is?
  2. Is daar enige bepalings wat verkieslik privaat gereël moet word en is hierdie bepalings in lyn met die AVO en die Wet?

Afhangende van die bogenoemde, mag dit nodig wees dat ‘n maatskappy sekere bepalings van sy bestaande aandeelhouersooreenkoms oordra na die AVO (op ‘n wyse wat met die Wet ooreenstem) en dan ‘n aandeelhouersooreenkoms in ‘n beperkte vorm behou wat hoofsaaklik privaat reëlings tussen die aandeelhouers bevat (byvoorbeeld koop en verkoop reëlings).

Of ‘n aandeelhouersooreenkoms steeds vir ‘n maatskappy toepaslik is, sal dus afhang van maatskappy tot maatskappy. ‘n Maatskappy moet verkieslik so gou as moontlik die raad en advies van ‘n maatskappyspesialis bekom ten einde die maatskappy se bestaande aandeelhouersreëlings ter hersien en die nodige integrasie tussen die AVO en die bestaande aandeelhouersooreenkoms te bewerkstellig.


Share: