www.phinc.co.za
 
 

News & Resources

 
 
 
 
 
 
 
 
 
Naderende Sperdatum: Dra u vakansiehuis of tweede woning nou oor en bespaar belasting!
19 March 2012  | Steyn Strauss
 

Alhoewel daar gese word dat die enigste gegewes in die lewe die dood en belasting is, verskaf die belastinggaarder by geleentheid die belastingbetaler ‘n vergunning ten opsigte van belasting. In 2012 maak die vergunning sy verskyning in die vorm van die Wysigingswet op Belasting 24 van 2011 wat die belastingbetaler toelaat om, vir `n sekere periode, `n vakansiehuis of tweede woning wat deur die belastingbetaler in `n maatskappy, trust of beslote korporasie besit word, oor te dra op die individuele belastingbetaler se naam sonder die gewone belasting implikasies wat normaalweg sou voortspruit uit so `n oordrag.

Voorheen was individue wat hul primêre eiendom in `n maatskappy, trust of beslote korporasie besit het toegelaat om die eiendom oor te dra op hul eie naam sonder om oordragskostes, kapitaalwinsbelasting, dividendbelasting of sekondêre belasting op maatskappye te betaal. In Oktober 2010 was hierdie vrystelling verder uitgebrei om voorsiening te maak dat meer transaksies kwalifiseer vir hierdie kwytskelding, maar die tipe eiendom wat so oorgedra kon word was steeds beperk tot eiendom wat as ‘primêre woning’ van die individuele belastingbetaler dien en daardeur is die tradisionele vakansiehuise en tweede wonings van die belastingbetaler uitgesluit.

Die Wysigingswet op Belasting 24 van 2011, gepromulgeer op 10 Januarie 2012, doen weg met die streng vereistes wat oordragte beperk tot primêre wonings alleenlik. Die wysiging maak dit nou moontlik om die uitgebreide kwytskelding ook aan te wend by die oordrag van vakansiehuise en tweede wonings in die naam van die individuele belastingbetaler en hierdie wysiging is terugwerkend van toepassing op alle vervreemding van eiendomme na 1 Oktober 2010.

Daar is egter sekere vereistes wat nagekom moet word ten einde te kwalifiseer vir hierdie kwytskelding:

  1. Die ‘vervreemding’ van die eiendom in die naam van die individuele belastingbetaler moet plaasvind tussen 1 Oktober 2010 en 31 Desember 2012.
  2. Die eiendom moet aan ‘natuurlike persone’ vervreem word wie ‘verbonde persone’ is soos gedefinieer word in die Inkomstebelasting Wet. `n ‘Verbonde persoon’ in die geval van `n trust sal byvoorbeeld die trustbegunstigdes wees.
  3. 'n Kwalifiserende eiendom moes hoofsaaklik aangewend wees vir huishoudelike gebruik deur een of meer natuurlike persone vanaf 11 Februarie 2009 tot datum van vervreemding.
  4. Binne 6 maande vanaf datum van die vervreemding moet sekere stappe geneem word om die bestaan van die maatskappy of trust wat die eiendom gehou het, te termineer. Dit beteken nie dat die maatskappy of trust binne hierdie tyd getermineer moet word nie, maar bloot dat die nodige stappe om die proses van terminasie te bewerkstellig begin moet word.

Sodra die vervreemding vir kwytskelding kwalifiseer, word die maatskappy of trust geag om van hul belang in die woning teen basiskoste op datum van oordrag afstand te gedoen het (vir doeleindes van kapitaalwinsbelasting). Dus sal die maatskappy of trust nie `n kapitale wins maak of kapitale verlies lei as gevolg van die vervreemding nie.

Die vraag mag gevra word hoekom enige persoon vervreemding sal oorweeg? Die mees oortuigende redes waarom iemand gebruik sal wil maak van hierdie vensterperiode om `n primêre, sekondêre of vakansiewoning oor te dra op jou eie naam is tweeledig:

  1. Die administratiewe kostes verbonde om `n regsentiteit soos `n maatskappy of trust aktief en geldig te hou, veral in die geval waar die eiendom (primêre, sekondêre of vakansiehuis) die enigste bate van die entiteit is, mag beperkend wees en in die guns van terminasie tel.
  2. Die kapitaalwinsbelasting implikasies by die verkoop van die eiendom uit `n regsentiteit in vergelyking met die verkoop van die eiendom deur `n individu: Eerstens, indien die primêre woning uit `n maatskappy of trust verkoop word, kwalifiseer die maatskappy of trust nie vir die R2 miljoen kapitaalwins kwytskelding nie. Tweedens, indien `n individu in plaas van `n regsentiteit die eiendom verkoop, spaar die individu minstens 50% op kapitaalwinsbelasting. Dus, die versagting van die kapitaalwinsbelasting implikasies in die geval waar die individu die eiendom later verkoop, weeg swaar in die guns van die gebruik van die kwytskelding om die eiendom oor te dra op die naam van die individu.

Natuurlik, by die oorweging om van hierdie kwytskelding gebruik te maak aldan nie, sal boedelbeplanning sowel as die bedoeling van die aanvanklike oordrag of koop van die eiendom in die regsentiteit in ag geneem moet word. Bekom dus die advies van `n boedelbeplanner of belastingpraktisyn rakende die voor- en nadele verbonde aan die besluit om u primêre, sekondêre of vakansiehuis oor te dra in u eie naam.