Hoe om jouself te beskerm as jy geld leen

19 June 2012 603

Die Nasionale Kredietwet is ingestel en magtig die Nasionale Kredietreguleerder om alle krediettransaksies te reguleer. Alhoewel nie alle lenings as krediettransaksies kwalifiseer nie, reguleer die Nasionale Kredietwet baie lenings wat wel as krediettransaksies kwalifiseer. In sulke gevalle verskaf die Kredietwet heelwat regte aan die verbruiker en plaas wedersyds heelwat verpligtinge op die verskaffer van die krediet.

Die onderstaande regte moet in gedagte gehou word en kan tot u voordeel wees wanneer u oorweeg om ‘n lening aan te gaan:

  • Versoek bewyse dat die lener instansie geregistreer is as ‘n kredietverskaffer. ‘n Geregistreerde kredietverskaffer moet ‘n registrasie sertifikaat, asook ‘n identifiseringskaart deur die Nasionale Kredietreguleerder, tentoonstel.
  • Versoek voor-ooreenkoms state en kwotasies. Die Kredietwet vereis dat ‘n verbruiker ‘n voor-ooreenkoms staat en ‘n kwotasie moet ontvang voordat ‘n kredietooreenkoms met ‘n kredietverskaffer aangegaan mag word. ‘n Voor-ooreenkoms staat is ‘n dokument wat die terme en voorwaardes van die voorgenome kredietooreenkoms wat die kredietverskaffer met die verbruiker wil aangaan, uiteensit. Daarbenewens moet die verbruiker ‘n kwotasie gegee word wat die kostes van die verlangde krediet uiteensit. Hierdie kwotasie moet die hoofskuld, rentekoers, die totale verskuldigde bedrag, die paaiement en alle fooie, heffings en rentes insluit. Die kwotasie wat die verbruiker ontvang is vir vyf besigheidsdae geldig. Die kredietverskaffer is verplig om krediet te lewer volgens die kwotasie in hierdie tydperk.
  • Maak seker jy betaal nie meer rente en kostes as wat toegelaat word nie. Die Nasionale Kredietreguleerder het voorgeskrewe tariewe vir die verskillende tipes krediet afgekondig. Die kredietverskaffer mag nie meer hef as wat voorgeskryf word nie. Vir klein korttermyn lenings is die maksimum rentekoers vasgestel teen vyf persent per maand en die aanvangsfooi mag nie meer as R1000 wees nie. Vergewis uself van die vasgestelde rentes en fooie of besoek die Nasionale Kredietreguleerder se webtuiste by www.ncr.org.za.
  • Dring daarop aan om periodieke state te ontvang. Die Kredietwet skryf voor dat ‘n kredietverskaffer ‘n verbruiker maandeliks, of indien die ooreenkoms ‘n afbetalingsverkoop-ooreenkoms, huurkoop of versekerde lening is, elke twee maande van ‘n staat moet voorsien. ‘n Lang tussenpose mag met die toestemming van die verbruiker, toegelaat word. Sodanig tussenpose mag egter nie drie maande oorskry nie. In die geval van ‘n verbandooreenkoms, is die verbruiker geregtig op ses-maandelikse state.
  • Vroeë betalings en kreditering van betalings. Die Kredietwet bepaal dat ‘n verbruiker ‘n paaiement verskuldig onder ‘n kredietooreenkoms, vooruit kan betaal. Die kredietverskaffer mag nie weier om vroeë betalings te aanvaar, of die verbruiker penaliseer vir vroeë betalings nie. Indien die verbruiker betalings maak aan die kredietverskaffer wat nog nie verskuldig is nie, bepaal die Kredietwet dat die kredietverskaffer die betaling in die volgende volgorde moet verdeel –
    • Eerstens, om die rente betaalbaar in terme van die kredietooreenkoms te delg;
    • Tweedens, om enige fooie en kostes te delg;  en
    • Derdens, om die hoofskuld te verminder.
  • Indien u bedoeling met ‘n ekstra betaling is om die gelde teen die kapitaal te verreken moet u spesifiek die kredietverskaffer sodanig in kennis stel.
  • U het die reg om te kla. Indien u voel dat u enigsins benadeel word kan u ‘n klagte indien by die Nasionale Kredietreguleerder deur die volgende tolvrye nommer te skakel – 0860 627 627 of deur ‘n epos te stuur aan die Nasionale Kredietreguleeerder by complaints@ncr.org.za.

Dit is adviseerbaar om regsadvies in te win alvorens u ‘n lening met ‘n bank of alternatiewe kredietverskaffer aangaan. Sodoende kan u uself teen uitbuiting beskerm deur vas te stel of die spesifieke transaksie binne die omvang van die Nasionale Kredietwet val aldan nie en wat u regte en verpligtinge in terme van die voorgestelde ooreenkoms is.

Tags: Credit Act, Loan
Share: